Hoe vertel jy vir haar hoe lief jy haar het,
hoe weet hy om jou fladderende hart te red?
Jy wil jou liefde in lirieke langsaam deel,
want gewone woorde gaan hul net verveel.
Maar woorde struikel lomp uit jou mond,
die gevaarlike gevolg is dalk dodelik ongesond.
Ek weet egter waar jy haastig hulp kan kry,
wie van agter die skerm jou na hom help vry.
Skermdigter is die naam waarmee hy gaan,
met treffende gedigte sal jy blink uitstaan,
terwyl hy buite sig agter die skerm skuil,
pronk jy met gedigte wat haar laat pruil.
Hy dig dierbaar vir beide hom en haar
en terwyl hy vir jou baie moeite spaar,
deel jy ‘n innemend intiem persoonlike gedig
wat hom of haar laat weet dis op hul gerig.
Die webwerf word tans opdateer. Vir
meer inligting oor hoe die
Skermdigter proses werk sodat ons
vir u 'n persoonlike gedig kan
voorberei, doen gerus navraag by
WhatsApp by 074 719 3677. Ons
sal volledige inligting aan u stuur.
Groete
Henry Luyt
Voorbeelde van Gedigte
Die Skermdigter dig persoonlike
gedigte namens u vir u geliefdes. Dit
is beskikbaar op skrif, in kort
skyfievertoning videos met fotos wat
u verskaf, of in ‘n klankbaan
voorgedra. Ek verkry inligting van u
oor uself, u geliefde, u verhouding en
die rede vir en omstandighede rondom
die gedig wat u verlang. Daarop
baseer ek ‘n baie persoonlike gedig vir
u.
Hier is ‘n voorbeeld van hoe dit werk.
Help my asseblief met die volgende
inligting:
U naam en ouderdom: Susan 40
Ontvanger se naam en ouderdom:
Riaan 42
Kies die tipe persoonlikheid vir u:
Ekstrovert
Beskryf die persoonlikhede. Ek gaan
my bes doen om die persoonlikhede
deur die gedig te laat skyn.
Byvoorbeeld: Ek is ‘n vrolike mens met
baie vriende. Ek laat my nie maklik
onderkry nie. Ek is lief vir lag, en
skerts graag met mense. Ek trek graag
been.
Beskryf u persoonlikheid:
Vir die voorbeeld gebruik ek die
bogenoemde beskrywing.
Kies die persoonlikheid van die ontvanger:
Teruggetrokke
Beskryf sy/haar persoonlikheid:
Hy is ‘n stil, sterk sensitiewe man. Hy voel maklik seergemaak maar aan die positiewe kant sien hy
ander se behoeftes vinnig raak en doen iets daaromtrent. Hy is ernstig van aard en het baie wysheid.
Kies die natuur van julle verhouding:
Liefdesverhouding
Kies die kleur van u hare:
Brunette
Kies die kleur van u vel.
Blas
Kies die kleur van die ontvanger se hare:
Blond
Kies die kleur van die ontvanger se vel:
Lig
Beskryf die agtergrond van die gedig
Byvoorbeeld: Riaan werk in Dubai vir ‘n paar maande op ‘n slag. Ek mis hom baie en weet hy is
eensaam omdat hy nie maklik vriende maak nie. Ek wil ‘n gedig stuur wat hom baie bewus sal maak
van hoe lief ek hom het en hom waardevol sal laat voel.
Beskryf die agtergrond van die gedig wat u wil hê:
Ek gaan die voorbeeld hierbo vir hierdie gedig gebruik.
U gedig:
Fladderende Harmonie
Ek sit stoksiel alleen hier op ons bed
waar ek onthou van die baie pret
waarmee jy altyd ons lewe vul
en ek dink aan jou in die vreemde kil.
Jy weet ek borrel altyd oor van vreug’,
maar vanaand wil dit nie deug,
want ek ken die diepte van jou hart
waar eensaamheid jou dalk dieptelik tart.
Haai, wat doen ek nou aan jou?
In my hart weet ek jy is dalk reeds blou.
So hier is vir jou ‘n pragtige lied
sodat my dansend hart jou vreugde bied.
Wanneer jy baie erg na my verlang
luister diep na die woord’ se klank.
Hoor die fladder van my fyne vlerkies
as ek saggies na jou sweef oppie bries.
Op die toon van ‘n troostend’ melodie
sweef na jou ‘n strelende simfonie
vloeiend uit ‘n musikaal volmaakte
hartsrefrein geharmonieer vir jou sterkte.
My hart verlang na my blonde beau
want jy’s nie sommer ‘n gewone ou.
Jy’t my hart verower en saamgevat,
daarom fladder ek by jou al die pad.